Tuesday, 12 February 2013

ALWEER 'n NUWE JAAR 2013



By hospitaal - Universitas

So het ek nou al vir maande pyn hier in die omgewing van waar mens se maag sit. Tot die dokters kon nie regtig 'n presiese vinger sit op die probleem nie. Toe iewers in Februarie van 2013, kry ons toe 'n afspraak in Bloemfontein by 'n vooraanstaande dr. - 'n internis. Die eintlike doel van die dr. was om my te help om by Universitas uit te kom vir toetse. Dis nie so maklik om by die hospitaal it te kom nie.
So is ons Bloem toe vir die ondersoek. Sy - die dokter -  het toe sommer 1,2,3, gereël by 'n dr. wat in die hospitaal die "kameraslukwerk" hanteer. Die gouste afspraak was die 25ste Jan. By 'n sekere dr. S....
Na 'n netjiese en deeglike ondersoek, en baie vrae het hy ook aanbeveel dat ek 'n sonar en 'n kolonoskopie moet laat doen. Die afspraak is gemaak  vir die 12de Februarie 2013.
Vandag is nou die 11de Februarie, ons is die oggend so by 11 uur uit WP oord weg na Bloem. Ek moes nog eers in Bloemfontein by 'n bank uitkom, aangesien die hospitaal 'n 3 maande bankstaat wou hê. Omdat ons nie meer 'n FNB bank in Ventersburg het nie het ek gereken om die sommer in die stad te kry. So draai ons toe af by Noordstad se afdraai. Daarvandaan reguit na Prellerplein vir 'n FNB bank. Soos in alle besighede van die nuwe Suid-Afrika val mens weg met 'n sitting van WAG!Gelukkig nie te lank gewag, om die state te kry was sommer gou-gou.
Daarvandaan na Eben en Susan se huis. Sy is tuis met 'n afbeen. So net na 1 daar ingeklok.
Laat ek nou eers net bietjie terug gaan na die program wat nodig was vir die kamera ondersoek:
Daar is 'n drie dae voorbereiding voorgeskryf vir die affêre. Drie dae voor die ondersoek moet mens ophou kos eet. Dan is dit eers 'n sterk dosis purgasie, eintlik dubbel sterk. Geen vaste kos nie -  Nee -  net 'n sagte dieet. met baie water! Dan kom twee dae voor die ondersoek, noe is dit net water en deurskynende vloeistowwe. Iets soos water en jellie en 'n glasie warm Bovril. So honger hulle jou uit. Intussen begin die vorige dag se purgasie werk en soek jy kort-kort die toilet op. Dan een dag voor die ondersoek was die aakligste. Dan skryf hulle dieselfde dieet voor as vir dag twee - behalwe - om 2uur begin jy 'n "Kleen" proses. Vier liter van die aardige goed moet ingeneem word. Die goed smaak net so duskant kots. so 'n dikkerige soort soutwater.
Dis nou juis vir die proses wat ons die middag van die 11de in Bloemfontein moes wees. Jy moet binne vyf of ses tree van 'n toilet af wees. Eerste 2 liter moet klaar wees om 4 uur. Dan om sesuur begin mens met die tweede 2 liter. Jy versuip amper in die goed en dan moet jy nog water ook tussenin drink. Ek beloof julle - dis die goed wat mens se maag die vinnigste aan die werk kry, wat ek nog beleef het. Tot laat in daardie nag boer jy op die ovaal witbank.
Ons moes maar vroeg roer want ons moes om 7 uur by die hospitaal inklok. Daar sit jy af na die WAGSTOELE. Daar het reeds paar mense gesit en WAG. Gelukkig was daar darem paar mense besig met die registrasie van mense se inname in die hospitaal. Daar kry jy 'n lêer met naamplakkers  met jou hele geskiedenis op. Sonder die lêer gebeur daar niks in die hospitaal nie. O Ja!! Ook die bloukaart! Onontbeerlik in die sake van die Provinsiale Gesondheidsdepartement.
Ons eerste afspraak was by die Sonarafdeling.
Daar was ons te vroeg vir die mense wat daar werk. So ons moet maar weer WAG!
Na so 'n uur het hulle daar aangekom. Snaaks genoeg die eerste naam wat toe geroep word, was myne. Dit was nou vir jou 'n ander ondervinding. Skynbaar is dit dieselfde apparaat wat hulle gebruik as hulle na babaties kyk in moeders. Hemp uit! Broek af tot onderkant die blaas. Twee dokters is daar. Die een nog aan die leer om die Sonarrekenaar te gebruik. Hy het homself aan my voorgestel en toe begin met "Sonar" Later het die leermeesteres kom hand bysit. Hulle twee het alles bespreek wat hulle sien. Ek kon maar net lê en luister. Elke orgaan wat hulle "sien" is benoem en  bekyk en gemeet en bespreek. Die maag, die aorta, die slukderm, die galblaas, die longe, die lewer, die blaas, die niere, die kliere, die blaas en die pankreas en dan ook nog die prostaat. Dis maar net die wat ek kan onthou. Uiteindelik was die les verby. Ek het gevra of alles gestoor word. Sy het toe gesê dat alles noukeurig op die rekenaars gestoor word. Gereed vir watter dokter dit ook mag nodig kry. Daarna is ons toe na die kolonoskopie afdeling toe. Jip!! WAG! Dit was 'n ordentlike geWag! Vir ure!
Uiteindelik is ek geroep. Papiere invul, weeg en lengte gemeet. Toe weer terug vir WAG1. Na wat gevoel het soos 'n ewigheid is ek toe in na die "teater" Broek it onder kombers o die ondersoek tafel. Bloedddruk meet. Soek na are op die hand. Niks gekry. Toe maar die aar in die arm. Daar is die naald met die aargoedjies toe aan. Intussen moes ek toestemming teken. Die dokter was gereed. Hulle spuit toe iets in my keel wat die moes doodmaak. Dan byt jy ;n stukplastiek vas met 'n gat daarin. Toe druk hulle die dikke kamerapyp in my keel in. Dit was baie onaangenaam. Jy voel naar en baie ongemaklik. Dit was gelukkig redelik gou verby - al het dit soos ure gevoel. Toe draai hulle die bed vir die onderin kamera - Daar het ek genadiglik ondergegaan  - seker soort van narkose of iets dergliks maar ek het eers weer in die herstelkamer bygekom. Toe was alles verby,
Dokter het later daar aangekom en gesê dat hy 'n opvolgbesoek sal reël. Dit is nou daar by die 9de April.
Groetnis Eben

Sunday, 10 February 2013

Die Kat met baie lewens


Iewers in die sewentiger jare het ek in Ventersburg getrek vanaf Rellingstraat 8 na Smitstraat 8. Die huis staan eintlik op die hoek van Smitstraat en Kahtstraat. Met die veranderinge wat aan die huis aangebring is deur die vorige eienaar, het die ingang verskuif na Kahtstraat. Dit kan no. 1 of nr 2 wees. Die buurman se ingang is nou ook regoor my ingang.

Die buurman het by die ou Sentraal Wes Koöp gewerk. Hulle het ook nie lank daar gebly nie.
Dit was ’n baie warm en droë jaar. Ons moes byna elke dag water gee om die boompies en struike en blommietjies aan die lewe te hou. Ek het een van die besonder sterk boorgate in die dorp.
Die een Saterdagmiddag het ek weer tuin natgemaak. Buurman se grasperkie was aan die doodgaan. Ons staan en gesels in die straat. Ek sê toe vir hom dat daar tog ’n boorgat op sy erf is. Eintlik was daar twee boorgate. Die een het nogal ’n pomp opgehad maar die ander een was toegemaak met ’n groot klip en ’n sement blad bo-oor.
Die pomp in die gat is toe uitgehaal deur die vorige eienaar, omdat die boorgat nie baie sterk was nie. Die tweede boorgat se sterkte het ons nie geweet nie. So met die gesels begin ons tussen die grasse soek na die tweede boorgat. So vind ons toe die grote sementblok, met lekker gesukkel kry ons dit toe weggeskuif. Daar onder is toe ’n yslike klip wat ons toe uit die gat moes rol. Met die jare het die grond soos ’n groot tregter weggespoel.
Nou het sy kinders ook daar rondgespeel. Hulle was nou ook nuuskierig oor die gewerkskaf van die grootmense. Vinnig het ons gekeer dat hulle nie naby die gat kom nie. Buurman het gou ’n spieëltjie gaan haal sodat ons kon kyk waar die watervlak in die boorgat lê.
Nou moet die son gebruik word om met die spieël die lig in die gat in te weerkaats totdat mens die watervlak kon sien. Daar  was water, wat ons duidelik kon sien. Redelik diep onder in die gat.
Ons het nog planne beraam om dit te meet, toe daar skielik net ’n wit strepie by ons verby vlieg. Soos jy kon sê ‘mes’ spring die buurman se klein wit katjie na die gat, die volgende oomblik hoor ons hoe die kat onder in die gat in die water plons. Wat ’n chaos bars toe daar los! Kinders wat huil en kerm. Net toe  maar besluit om die klip weer terug te rol hoor ek die katjie se gekerm onder in die gat. Ons lig weer met die spieëltjie maar die waterkolletjie is doodstil. Geen kat in die water nie. Tog weer duidelik die gemiaau van die kleine katjie. Ek begryp toe dadelik dat die grond by die watervlak so uitgekalwe was, dat daar  ’n soort van randjie in die wand gevorm het. Ons kon nie katjie hoor nie, maar duidelik hoor.
Ek is toe vinnig na my werkswinkel en saag toe ’n ronde plankie wat in die gat kon afsak. Buurman het ook visgevang en het vislyn gehad. Ons maak die vislyn aan die plankie vas. Met troebel verwagtings laat sak ons die plankie in die gat af. Glo dit as jy wil, toe daardie plankie die water tref is die katjie op! So begin ek die plankie optrek. Die katjie klou vir al wat hy werd is. Meteens kantel die plankie en af is die katjie. Vinnig laat ek die plankie weer afval in die gat. Die keer het die katjie seker gemaak en geklou vir lewe en dood.
Daardie middag was die vreugde groot in die huis toe ons die katjie weer op die grond het.
Ons het dadelik die klip weer oor die gapende tregter gerol en ook weer die sement blad opgesit. Buurman het toe nie lank genoeg daar gebly om weer die water te probeer uitkry nie.