Sunday, 10 February 2013

Die Kat met baie lewens


Iewers in die sewentiger jare het ek in Ventersburg getrek vanaf Rellingstraat 8 na Smitstraat 8. Die huis staan eintlik op die hoek van Smitstraat en Kahtstraat. Met die veranderinge wat aan die huis aangebring is deur die vorige eienaar, het die ingang verskuif na Kahtstraat. Dit kan no. 1 of nr 2 wees. Die buurman se ingang is nou ook regoor my ingang.

Die buurman het by die ou Sentraal Wes Koöp gewerk. Hulle het ook nie lank daar gebly nie.
Dit was ’n baie warm en droë jaar. Ons moes byna elke dag water gee om die boompies en struike en blommietjies aan die lewe te hou. Ek het een van die besonder sterk boorgate in die dorp.
Die een Saterdagmiddag het ek weer tuin natgemaak. Buurman se grasperkie was aan die doodgaan. Ons staan en gesels in die straat. Ek sê toe vir hom dat daar tog ’n boorgat op sy erf is. Eintlik was daar twee boorgate. Die een het nogal ’n pomp opgehad maar die ander een was toegemaak met ’n groot klip en ’n sement blad bo-oor.
Die pomp in die gat is toe uitgehaal deur die vorige eienaar, omdat die boorgat nie baie sterk was nie. Die tweede boorgat se sterkte het ons nie geweet nie. So met die gesels begin ons tussen die grasse soek na die tweede boorgat. So vind ons toe die grote sementblok, met lekker gesukkel kry ons dit toe weggeskuif. Daar onder is toe ’n yslike klip wat ons toe uit die gat moes rol. Met die jare het die grond soos ’n groot tregter weggespoel.
Nou het sy kinders ook daar rondgespeel. Hulle was nou ook nuuskierig oor die gewerkskaf van die grootmense. Vinnig het ons gekeer dat hulle nie naby die gat kom nie. Buurman het gou ’n spieëltjie gaan haal sodat ons kon kyk waar die watervlak in die boorgat lê.
Nou moet die son gebruik word om met die spieël die lig in die gat in te weerkaats totdat mens die watervlak kon sien. Daar  was water, wat ons duidelik kon sien. Redelik diep onder in die gat.
Ons het nog planne beraam om dit te meet, toe daar skielik net ’n wit strepie by ons verby vlieg. Soos jy kon sê ‘mes’ spring die buurman se klein wit katjie na die gat, die volgende oomblik hoor ons hoe die kat onder in die gat in die water plons. Wat ’n chaos bars toe daar los! Kinders wat huil en kerm. Net toe  maar besluit om die klip weer terug te rol hoor ek die katjie se gekerm onder in die gat. Ons lig weer met die spieëltjie maar die waterkolletjie is doodstil. Geen kat in die water nie. Tog weer duidelik die gemiaau van die kleine katjie. Ek begryp toe dadelik dat die grond by die watervlak so uitgekalwe was, dat daar  ’n soort van randjie in die wand gevorm het. Ons kon nie katjie hoor nie, maar duidelik hoor.
Ek is toe vinnig na my werkswinkel en saag toe ’n ronde plankie wat in die gat kon afsak. Buurman het ook visgevang en het vislyn gehad. Ons maak die vislyn aan die plankie vas. Met troebel verwagtings laat sak ons die plankie in die gat af. Glo dit as jy wil, toe daardie plankie die water tref is die katjie op! So begin ek die plankie optrek. Die katjie klou vir al wat hy werd is. Meteens kantel die plankie en af is die katjie. Vinnig laat ek die plankie weer afval in die gat. Die keer het die katjie seker gemaak en geklou vir lewe en dood.
Daardie middag was die vreugde groot in die huis toe ons die katjie weer op die grond het.
Ons het dadelik die klip weer oor die gapende tregter gerol en ook weer die sement blad opgesit. Buurman het toe nie lank genoeg daar gebly om weer die water te probeer uitkry nie.

No comments:

Post a Comment