Sit ek nou die dag en grawe in die ou kartondose met allerhande skoolgoeters in. Eintlik na 'n verlore boek gesoek. Kom ek skielik af op 'n lêer vol transpirante wat ek in die skool gebruik het. Daar was allerhande gediggies in wat ons ondersoek en behandel het. Ook blaaie vol begripstoetsie wat die leerlinge in die Afrikaanse klassies moes doen. Ek onthou nog een begripstoets met die opskrif " Ipiekonders".
Nou het ek 'n maat wat gedigte en stories skryf. Lank terug het ek haar vertel van die besondere gedig wat ek vir die skoolkinders gegee het as 'n voorbeeld van "moderne" digwerk. Ek vermoed dit moes in die jare 1976 tot iewers in die tagftigs gewees het. Ons het 'n soort van Literatuurstudie gedoen. met verskillende karaktertrekke van poësie. Hierdie besonder gedig het ek uit 'n album gehaal met gedigte van skoolkinders. Die besondere gedig is geskryf deur ene S.E. van der Merwe. Vanwaar sy was kan ek nou nie meer onthou nie. Of sy steeds gedigte of ander skryfwerk doen sal ek baie graag wil verneem. Baie van die leerlinge in my klasse sal nog die gedig onthou.
Die Aardbewing
die aarde se diep brosgeel kors
het 'n roggellied gebraak uit sy bors
die litosfeer
omhullend
die aarde se kokende maag
het brullend
vibreer
en geboue en grond deur jare gebind
met groot vraatsug tot bouval verslind.
S.E van der Merwe
Skielik onthou ek weer die gedig met die naam "Ek dink ek kan"
Dit was van die klein lokomotief. Ons het baie plesier met daardie gedig gehad. So kom daar baie gedigte weer by my op. Tog te heerlik om weer bietjie op die herinneringstrein te ry.
Ontdek toe ook die punteboekie wat ons moes hou. In Afrikaans was die leerlinge se totale punt vir Afrikaans opgebou uit verskillende komponente. Ek dink aan "Lees", "Diktee", "opstelle en briewe", "Spellingwoorde", "Taalwerk", "voordragte". O! ek onthou hoe was ons as onderwysers aangespreek om te sorg dat ons en ook die leerlinge MOET kan reg spel. Daar was punte afgetrek in al die vakke vir foutiewe spelling. Vir alles wat die leerlinge in die Afrikaanse lesse moes doen was daar punte voor gegee. Daardie punte is in punteboeke aangeteken. Die mees uitputtende werk in die skool was die nasienwerk. Dan die evaluering van al die verskillende prestasie, sodat daar aan die einde van die kwartaal 'n baie akkurate beeld gevorm was van elke kind se vermoë in die vak.
Ons moes kwaai wees! Swak dissipline was net nooit toegelaat nie. Daarvoor het ons allerhande hulpmiddels gehad. Seker die swakste van al daardie hulpmiddels was "uitskryfwerk". Iets wat ek nie baie lus was om aan leerlinge te gee nie.
Tog naar dat die meeste leerlinge die sleg van skool onthou! die raas en baklei! Die straf uitdeel vir iets wat jy NIE gedoen het nie. "Huiswerk" Pleks dat hulle onthou hoe vreeslik baie ons vir hulle omgegee het. Hoe ver ons uit die pad uitgegaan het om werk vir hulle aangenaam en lekker te maak. Hoe hard ons probeer het om iets te verduidelik en te verduidelik en te verduidelik, totdat almal dit verstaan het. In die taal is daar BAIE sulke goedjies. Skielik onthou ek "Voorvoegsels" be-; ge-; her-; er-; ont-; ver-; Dit wat die Taal betref.
As ek oor opstelle dink, kom daar sommer so 'n hartseer nostalgie in my op. Wonder hoeveel opstelle ek in die tyd moes deurlees. En dan 'n punt daarvoor moes gee! Baie daarvan was dood eenvoudig geskryf. Hier en daar daardie besondere opstel, so netjies en goed, dat dit aan die klas voorgelees kan word. Was altyd verstommend dat dit nie altyd die "slimkind" was, wat die beste opstel geskryf het nie. Ek dink opstel skryf is 'n skeppende, kreatiewe aktiwiteit, vir die meeste kinders was dit net eenvoudig - 'n pyn - !
Ja, so kan ek blaaie en blaaie vol gorrel oor die onthou! Die onthou van spesiale leerlinge - spesiaal oulik! spesiaal stout! spesiaal naar! spesiaal vol liefde. Oja, en dan die sondes van alle onderwysers. ---- Ek het baie van jou gehou --- En van jou het ek nie gehou nie --- Die wonder daarvan was dat die kinders presies net ook so was!! Dankie dat die meeste kinders wat deur my hande was, my onthou! Goed of sleg!! Vandag loop ek hulle raak en dan word die nageslag aan my voorgestel as: " Dit was my meneer wat my g.... aan die brand geslaan het!!!
Onthou julle die "Vlooie!!!" Hieha!!
Lekker lees.
Nog steeds die "Houtkop"
No comments:
Post a Comment