Sunday, 30 September 2012

Toe ek nog skoolmeester was


 Sit ek nou die dag en grawe in die ou kartondose met allerhande skoolgoeters in. Eintlik na 'n verlore boek gesoek. Kom ek skielik af op 'n lêer vol transpirante wat ek in die skool gebruik het. Daar was allerhande gediggies in wat ons ondersoek en behandel het. Ook blaaie vol begripstoetsie wat die leerlinge in die Afrikaanse klassies moes doen. Ek onthou nog een begripstoets met die opskrif " Ipiekonders". 

Nou het ek 'n maat wat gedigte en stories skryf. Lank terug het ek haar vertel van die besondere gedig wat ek vir die skoolkinders gegee het as 'n voorbeeld van "moderne" digwerk. Ek vermoed dit moes in die jare 1976 tot iewers in die tagftigs gewees het. Ons het 'n soort van Literatuurstudie gedoen. met verskillende karaktertrekke van poësie. Hierdie besonder gedig het ek uit 'n album gehaal met gedigte van skoolkinders. Die besondere gedig is geskryf deur ene S.E. van der Merwe. Vanwaar sy was kan ek nou nie meer onthou nie. Of sy steeds gedigte of ander skryfwerk doen sal ek baie graag wil verneem. Baie van die leerlinge in my klasse sal nog die gedig onthou.

Die Aardbewing

die aarde se diep brosgeel kors
het 'n roggellied gebraak uit sy bors


die litosfeer
omhullend
die aarde se kokende maag
het brullend
vibreer

en geboue en grond deur jare gebind
met groot vraatsug tot bouval verslind.

S.E van der Merwe 

Skielik onthou ek weer die gedig met die naam "Ek dink ek kan"
Dit was van die klein lokomotief. Ons het baie plesier met daardie gedig gehad. So kom daar baie gedigte weer by my op. Tog te heerlik om weer bietjie op die herinneringstrein te ry.

Ontdek toe ook die punteboekie wat ons moes hou. In Afrikaans was die leerlinge se totale punt vir Afrikaans opgebou uit verskillende komponente. Ek dink aan "Lees", "Diktee", "opstelle en briewe",  "Spellingwoorde", "Taalwerk", "voordragte". O! ek onthou hoe was ons as onderwysers aangespreek om te sorg dat ons en ook die leerlinge MOET kan reg spel. Daar was punte afgetrek in al die vakke vir foutiewe spelling. Vir alles wat die leerlinge in die Afrikaanse lesse moes doen was daar punte voor gegee. Daardie punte is in punteboeke aangeteken. Die mees uitputtende werk in die skool was die nasienwerk. Dan die evaluering van al die verskillende prestasie, sodat daar aan die einde van die kwartaal 'n baie akkurate beeld gevorm was van elke kind se vermoë in die vak.

Ons moes kwaai wees! Swak dissipline was net nooit toegelaat nie. Daarvoor het ons allerhande hulpmiddels gehad. Seker die swakste van al daardie hulpmiddels was "uitskryfwerk". Iets wat ek nie baie lus was om aan leerlinge te gee nie.

 Tog naar dat die meeste leerlinge die sleg van skool onthou! die raas en baklei! Die straf uitdeel vir iets wat jy NIE gedoen het nie. "Huiswerk" Pleks dat hulle onthou hoe vreeslik baie ons vir hulle omgegee het. Hoe ver ons uit die pad uitgegaan het om werk vir hulle aangenaam en lekker te maak. Hoe hard ons probeer het om iets te verduidelik en te verduidelik en te verduidelik, totdat almal dit verstaan het. In die taal is daar BAIE sulke goedjies. Skielik onthou ek "Voorvoegsels"        be-; ge-; her-; er-; ont-; ver-;  Dit wat die Taal betref.

As ek oor opstelle dink, kom daar sommer so 'n hartseer nostalgie in my op. Wonder hoeveel opstelle ek in die tyd moes deurlees. En dan 'n punt daarvoor moes gee! Baie daarvan was dood eenvoudig geskryf. Hier en daar daardie besondere opstel, so netjies en goed, dat dit aan die klas voorgelees kan word. Was altyd verstommend dat dit nie altyd die "slimkind" was, wat die beste opstel geskryf het nie. Ek dink opstel skryf is 'n skeppende, kreatiewe aktiwiteit, vir die meeste kinders was dit net eenvoudig - 'n pyn - !

Ja, so kan ek blaaie en blaaie vol gorrel oor die onthou! Die onthou van spesiale leerlinge - spesiaal oulik! spesiaal stout! spesiaal naar! spesiaal vol liefde. Oja, en dan die sondes van alle onderwysers. ---- Ek het baie van jou gehou --- En van jou het ek nie gehou nie  --- Die wonder daarvan was dat die kinders presies net ook so was!! Dankie dat die meeste kinders wat deur my hande was, my onthou! Goed of sleg!! Vandag loop ek hulle raak en dan word die nageslag aan my voorgestel as:  " Dit was my meneer wat my g.... aan die brand geslaan het!!!
Onthou julle die "Vlooie!!!" Hieha!!
Lekker lees. 
Nog steeds die "Houtkop"



Tuesday, 18 September 2012

"nuwe lewe" vir die maand Oktober 2012

Hierdie "blogg" werk net as hy lus is. Of ek is seker maar dom.

Oktobermaand is aan die kom.

Dis die maand van "LEWE"

Elke plant probeer dan sy bes om op sy mooiste te lyk. September bepaal of die plant nog lewe en of die winter te straf was, Vroeg in die maand sal die meeste plante en bome tekens van nuwe lewe begin toon. Tog baie oulik hoe elkeeen sy eie manier het. Party maak eers die fynste blaartjies, ander begin sommer met so 'n soort van 'n blommetjie. Dan is daar die wat eers botseltjies maak. Wat ons in ons taal noem dat die boom "bot".  Dan kan ons së dat bot beteken "hier kom nuwe lewe" Die plant ontwaak uit sy sy winter hibernasie en begin tekens toon dat dit nog 'n seisoen die lewe gaan aandurf. Om dan te maak wat die plant moet maak.

Jip!!! Dis die maand van "nuwe lewe". Ook die in die voëlryk. Die swaeltjies en baie ander trek- en migreervoëls keer terug na hulle plekke hier in ons land. Ek wag al van die begin van Augustus af dat die swaaeltjies hulle self moet wys. Maar die jaar het hulle eers laat in September opgedaag. Orals is die verskillende soorte besig om nessies te bou en vlerk te sleep vir die nuwe "lewe" wat gemaak moet word. Meen dis al waarvoor hulle bestaan. Sorg vir 'n nageslag.

Ek weet nie hoekom die Blogg so agterlik is nie. 'n Volle twintig getikte reels het nou sommer net so verdwyn.Nou sal ek vrek hard moet dink om weer te tik wat ek getik het.

Verseker !!! Is dit die maand van "nuwe lewe".Ek hoor op die radio'tjie dat mens 'n cd kan bestel, oor "trou".  Die cd verduidelik dan aan jou alles wat jy moet en behoort te doen voor en tydens die troudag. Wat is trou dan anders as om 'n "nuwe lewe" te begin? Die draadlosie sê ook dat verreweg die meeste mense in Oktober trou.

Dan is daar die dag van "nuwe lewe"! Dis die dag wanneer jou Dwaasheid verander na Wysheid. Tog jammer dat daar so baie Dwase steeds in die wêreld is. Jy sien, vriend, (of wie ook al hier lees) om Wys te wees, is om Wysheid te verwerf. Die Wyse Weet, en besef, en verstaan, en glo! Dat Wysheid is kennis van God. Ja hardekwas, Dwaas! Dis wat die Bybel my geleer het. Maar jy sal dwaas bly totdat jy ook jou Bybel opvat en opnuut daarin gaan soek na die Kennis wat daarin opgesluit is, sodat jy daardeur Wysheid kan kry.

Mag jy dan die "nuwe lewe" wat verskuil is in die maand Oktober ook gaan soek. Miskien kan jy dan ook "bot" vir God.

Geniet!!

Tot volgende keer!!

Liefdegroete

Monday, 10 September 2012

SO VLIEG TYD !!!! EN WERK

Hallo aan die wat hier uitkom!!

So is dit al weer September 2012, die 10de!! Hier in Ventersburg is dit koud en droog. Al het daar so onverwags saam met die wind, tog so 'n verdwaalde bui reen uitgesak. Ek verneem dat daar op party plase tot 26mm geval het. Verlede jaar was dit nie 'n reenjaar nie, tog het dit kort-kort so bietjie gereent .... maar nooit storm- of loopwater nie. Dit het veroorsaak dat ons geliefde Allemanskraaldam verlede jaar byna niks water bygekry het nie. Wat 'n teenstelling met 2 jaar gelede - toe het die dam byna 'n volle jaar lank oorgeloop. Dis verstommend hoeveel die water al teruggetrek het, Hoop dit reen die seisoen weer beter.

Ons het Saterdag heerlik basaar gehad - dis nou die NG Gemeente van Ventersburg. Wat 'n heerlike kuier was dit nie. Het tog baie gemeentelede gemis. Daar was die gebruiklike tafels. Die koektafel was vol gelaai met heerlike koeke en terte. Praat ons nie eers van die poedingtafel nie. Die bakkies was vol met heerlikhede soos min. Ook die tombole was druk besoek, veral deur die jongklomp. Ook die "Spookhuis" was baie besig met al die grilli en gille, Ek en klompie van ons wyk (3) en wyk (2) asook een plaaswyk was vasgekeer agter die pannekoektafel. Letterlike honderde pannekoeke gebak asook tientalle flops. Dan was daar die gebruikelike vleistafel, die was in die sysaal by die koelkas. daar is honderde rande se vleis verkoop. Ek het self heerlike wors daar gekoop. Opregte boerewors soos dit  net in ons dorp gemaak kan word. Buite in die oop terrein was daar die springkasteel en die braaivleise. Sosaties en wors en tjoppies was heerlike en by die honderde verkoop. Geluk aan die komitee vir 'n heerlike dag - Die Basaar!!

Na die basaar is ek en Adéle Vereeniging toe. Ek is na my neef - Breda du Toit toe. Ek het babastoeltjie wieletjies by hom bestel. Hy giet die wieletjies uit alluminium. Was weer 'n ondervinding om is sy werkplek te kuier. Hy is nogal 'n besige entrepreneur. Geluk ou neef. Doet so voort.
So met die terugry het ons vir versnaperinge en veruiteringe gestop by een van die OneStop garage. Daar gou 'n happie ingewerk en ons verstom aan die derduisende voëltjies in die bome by die ligte. Dit was 'n ondervinding om so baie te sien saampak en kwieter kwater en raas in die bome. Die motors onder die bome in die parkeerarea het natuurlik goed deurgeloop. Jammer hulle het nie met "Gwano" geloop nie, ons sou baie ver gekom het.

Vandag - 10 September 2012 - nog steeds in die kerk gewerk om die fout in die sligte te soek. Dis vrek hoog en die staander was nie vandag so lekker stabiel nie. Niks gevaarlik nie - net klein beweginkies - wat mens se hele lyf en broeke sommer laat styfskop en dan laat bewe.  Iewers in die seksie van die ligte is daar 'n groot kortsluiting. Dit kos my nou elke buislig oopmaak om te toets of die ballas nog werk. Om dit te toets word die bestaande krag toevoerdrade ontkoppel, dan koppel ek krag vanaf 'n kragpunt aan die konneksie. Die buise word ingesit en die krag aangeskakel om te toets of die ballas nog werk. As die ligte dan aankom, werk dit nog. Einde van die toets. Alles word weer gekoppel en toegemaak. Klink tog so eenvoudig totdat mens die werklikheid van die situasie verstaan. Hierdie ligte is 2,4 meter lank. Hulle is twee twee aanmekaar gekoppel. Dit gee 'n totale lente van 4,8 meter. Die torings waarop ek werk is maar 600 mm. Dit veroorsaak dat daar baie verskuiwings aan die torings gedoen moet word. Nou is amper klaar. Nog net een stel ligte oor in die deel waar die kortsluiting is. Dan is daar nog net een stel wat herstel moet word. Seer seker een van die moeilikste take wat ek nog onderneem het. Hoop ek kan die fout kry.

Ons het Sondagmiddag na kerk uitgery na Vriende en heerlik gekuier en onderhandel oor al die kuier en verjaardag-etes. Asook die Doop en trou organisasie gaan bespreek. Dit vorder goed.

Baie groete
Lewer maar bietjie kommentaar.

Tuesday, 14 August 2012

Kom ek gesels weer bietjie

Hi

Dis al weer ek wat bietjie hier gedagtes wissel.

Intussen verloof geraak. Dankie aan my meisie vir die eer. Hoop jy sal altyd vreugde kry uit ons verhouding.

Ek werk nog steeds in die NG Kerk Ventersburg. Tans besig om die buisligte in die kerkna te gaan en te herstel waar nodig. Daar is ongeveer 56 buisligte van "8vt".

Sunday, 12 August 2012

WAT 'N WERK!!!

Ek steeds besig in die NG Kerk van Ventersburg.
Hier ons besig om aan die die stukkende lig, hoog teen die dak van die kerk, te werk. Ek staan op die staander aan die regterkant. Dit is 'n buislig van 2,4 meter (8 vt) in die ou taal. Die lig werk met 'n "ballester" (ek soek nog die Afrikaanse woord) Dit is die maganisme wat 'n buislig laat aankom. Die betrokke lig sin het te warm geord sodat die baie dik olie daarin uitgebars het na buite. in die proses het daar 'n dodelike kortsluiting ontstaan. Omdat die kerk se ligte in seksies werk is die hele een kwart van die kerk se lig buite werking. Omdat die lig so lank is, moes ons 'n 2de leer oprig net om die skroefies waarmee die deksels van die lig vas is, af te kry. My  handlanger op die leer, is Piet, Die lighouertjie aan daardie kant van die lig was ook bros en het gebreek. Ons nou besig om dit te vervang. Ek was so gelukkig om by 'n vriend daarvan in die hande te kry.
Gedurende die week van 12 Augustus 2012 sal ek aan die lig werk.

Saturday, 4 August 2012

RESTORASIE EN NETJIES HOUTWERK

Wonder of mens hier 'n foto kan insit?

Uiteindelik 2012 - Nuwe jaar nuwe stories

Laas was ek nog nie oupa nie!! Nou vanaf die 13de Februarie - is ek nou 'n Oupa. Wat 'n wonder gedagte. Net so dankbaar bly dat die kleine Wondermeisietjie gesond en so pragtig is. Leja Joey is haar naam. Was 'n redelike lang proses om haar op die aarde te kry. Verstaan van begin tot einde oor die 14 uur.
Hierdie jaar het ook ander dingetjies opgelewer. Ek het weer begin met Bybelstudie - Titus  is die boek waarmee ons besig is. Het bietjie nagelees oor Kreta, wat
Goeiedag aan almal wat al hier gekuier het. Ek uiteindelik weer terug, na maande van die lug af. Seker 'n interessante storie. So aan die einde van Februarie steel hulle toe die hooftelkom lyn wat langs my huis verbyloop. So gee ons kennis van telkom dat weg is. Geen telefoon - geen internet - geen email - en al die derglike sake wat almal sommer as vanselfsprekend aanvaar.
So gaan Maartmaand verby sonder telefoonlyn. Ook geen reparasies aan die telkomlyne nie. Toe so aan einde van April begin hulle toe die lyne regmaak. Elke dag amper 'n "nuwe" tegnikus. Hulle spartel en spook met al die fyn draadjies. Ek verneem kort-kort of daar dan tog nie koppeling kan wees nie. So betaal ek ook nie die rekening nie. - Wie betaal vir iets wat jy nie het nie???? - Toe een dag iewers in Mei, het ek skielik kontak met die buitelewe.
My vreugde was van korte duur - Slegs een oproep. Af is my foon!!
Ek loop weer 'n tegnikus raak - Hy kan nie my foon regmaak sonder 'n verwysingsnommer nie. Al verduidelik ek hoe.

So gaan daar weer 'n volle Juniemaand verby.. Intussen weet die rekening afdeling natuurlik niks van die lyndiefstal nie. So word my nommer "suspend" Nou is ek sonder koppeling en sonder luitoon. Geen buiteoproepe kom in nie. Gevolglik betaal ek eers weer niks....

Tog besluit ek om solank tog 'n betaling te maak.

En sowaar 'n Telkomverteenwoordiger skakel my en verneem wat gaande is. Ek verduidelik en verduidelik. Ek vra dat Telkom 'n deel van die rekening sal krediteer. Ek het nou vanaf begin van Maart GEEN telkomdiens gehad nie.
Tog kry ek elke maand die volle rekening. Gelukkig was daar geen oproepkoste nie.
Toe in die middel van Julie skakel 'n vriendelike dame van Telkom en sê dat Telkom 'n deel van die uitstaande bedrag sal krediteer. Ek skuld nog so R200. Wat ek toe dadelik betaal.

Vier dae voor die einde van Julie maand toets ek eendag die telefoon. Sowaar daar is weer kontak met die buitewêreld.

Kom nog net reg met my ou email adres nie.

Intussen doen ek nog heerlik houtwerk!!!

Kyk ook Facebook vir foto's van baie van my werk.

Baie groete

Kop vir Hout.